Ook
bekend as Klipbok Avonture.
n Roete wat net deur ervare 4x4 bestuurders aangepak behoort te word, maar beslis
n moet roete vir wie wil sê dat hulle reeds by al die Wes-Kaap se
mooiste 4x4 roetes was.Op-de-Tradouw
is n groen vallei ten weste van Barrydale, styf ingedruk tussen die pad na Montagu
en die Langeberg. Niel Haasbroek het n paar jaar gelede die ou vergete beespad teen
die Langeberg op skoongemaak sodat hy makliker by sy weivelde kon kom.
Die pad is met n trekker en Land
Cruiser oopgery. Niel en sy helpers het bloot die groter klippe wat in die pad was
weggeskuif. Omdat dit met die hand gemaak is, is daar n paar draaie waar dit maar
knor om op en af te kom.
Die roete gaan sig-sag teen die
noordelike hang van die Langeberg op. Feitlik die hele pad is met groot klippe besaai en
beide die voertuig en die insittendes word goed beproef. Jy moet beslis alles in die
voertuig goed vasmaak vir die rondskud.
Die rytyd vanaf die plaas tot op die berg
is ongeveer 2 uur, met n gemiddelde snelheid van so 3 km per uur. Bo-op die berg is
daar n lang plat gedeelte waar jy skoon van al die geskud sal vergeet. In die
reëntyd sal dit egter die vaardigheid van n Camel kompetisie deelnemer verg om daar
deur die bergspons moeras te kom.
Die beloning vir al die swaarkry is egter
oor en oor die moeite werd. Die uitsigte van daar bo af is wonderbaarlik. Noord kyk jy oor
die Klein Karoo berglandskap van Barrydale en Montagu se distrikte uit. Suid kyk jy oor
die Overberg uit. Wes en oos kyk jy so half-en-half bo-oor die ander bergpieke.
As jy bereid is om aan die einde van die
pad n entjie te loop, sal jy lieflike swempoele in een van die klofies kry.
Dit is wel n lang dag se ry, maar
dit wat jy daar beleef, is oor en oor die moeite werd. |