A report by Herbie van Zyl (15) about a break-away
weekend with his father and two brothers.
Hello Ma
Dit was vandag
vadersdag en jeugdag. Pa het gery en ons het kos gemaak.
Die naweek was cool. Op
Clanwilliam het ons elkeen 2 warm, groot gebotterde askoeke gekoop. Daarna het ons na die
pragtige middel van nêrens gery. Dit was n lang rit. Ons het middagete gebotterde
brood en sop bo-op die berg geëet, met die mooiste moontlike uitsig oor n
nêrenswêreld. (Dis nou die Ceres Karoo.)
Toe het ons weer
opgepak en aangery en aangery en aangery. Ons het seker nie te ver gery nie, maar dit was
seker teen 10km/h. (Lyk my die steil moeilike 4x4 deel het nie indruk op hom gemaak nie,
want hy noem dit nie eers nie.)
Toe het ons by die
Doringrivier gekom en daar was met klippe n pad uitgepak in die rivier. (n
Lang drif wat met seepgladde rivierklippe in n L-vorm oor die rivier gepak is
100 m of verder.) Daar het pappa nogal n groot foutjie gemaak en amper vasgesit. Hy
het met die kragtige 4´4 soos n waferse bul daar uitgeklim. Toe ons daar uit is,
was dit seker so 4 uur.
Daarna was die roete
nie te moeilik nie. Na n hele tyd ry ons af van die berg af en voor ons sien ons
niks.
Dit was ernstig niks.
Pa sê toe dit is die Ceres Karoo . Daar was vir so ver jy kon sien niks nie. Seker net 3
murasie en 5 bome.
So ry ons toe aan en
kom by n windpomp. Vreeslik verheug spring almal uit om uit die dam te gaan water
drink. Die water is helderskoon en lyk lieflik. Pa vat toe sommer ook n sluk en ons
hoor net die vreemdste geluide hoorbaar. Die boorgatwater is toe vol kruit. Vinng hardloop
Pa kar toe en gryp n blikkie coke nader. Arme man.
Ons ry toe weer verder
en kom na n ver ent by die boer se plaas. Goedhartig word ons ingenooi.
Later ry ons na ons
kampplek toe en kamp toe sommer op n lappie stof onder die bloekombome. Ons het toe
n gat gegrawe waarin ons moes vuurmaak. Ons het varkvleis, brood en wors geëet. Die
koffie het opgeraak, maar gelukkig het pa rooibostee ook ingepak.
Dit was glad nie so
koud soos ons gedink het dit sal wees nie. So 10 uur se kant het ons al ingekruip.
Toe ek die volgende
oggend opstaan is pa en Johan al besig met n vuurtjie en om die water aan die kook
te kry. Ons het die 2 dae nie 1 keer die gasstofie aangesit nie. Ons het die water op die
vuur gekook, vleis, wors en brood daarop gebraai en sommer vanoggend die eiers op die vuur
gebak.
Amper vergeet ek van
die gerookde spek wat ons ook gemaak het. (Hulle kon nie verstaan dat die vuur n
rookgeur in die oop potte indra nie. En hier in die stad betaal ons so duur vir allerhande
disse wat gerook is.)
Te lekker. Ek glo Ma se
mond is nou aan die water. Maar in elk geval. Ons is toe later daar weg en ons vat die
doodste, leegste pad.
O Ja. Ons ry nog so
rustig, half aan die slaap, en ek sien skielik vlieg hier een of ander voëls op (Dit was
kraaie.).
Terwyl ons verby ry,
kyk ons en daar sit n witkruisarend op n klip, seker 2 meter van die pad af.
Abrie hou toe vinnig stil, maar die arend vlieg toe op. Dit sou n rare foto gewees
het, as hy maar net bly sit het. Die twee kraaie vlieg toe die hele tyd om hom en
pik en skel hom. Hy het seker naby hulle kuikens gekom. Daardie voël was mooi!!. Om te
dink mens doen in die middel van nêrens sulke ervarings op. (Min mense het die ervaring
om n witkruisarend van só naby te sien.)
Maar om n lang
storie kort te maak. Die naweek was baie lekker en ons mis ma vreeslik.
Lekker bly en kom
veilig tuis.
Liefde, groete
Herbie |