HOME | TOURS | ACCOMMODATION | ADVENTURE | TEAM BUILDING | CORPORATE EVENTS
TOURISM OFFICES | NEWS | WHY SOUTH AFRICA? | GUEST BOOK | AFRIKAANSE REISSTORIES
PHOTO ALBUM | ABOUT US | CONTACT US
4X2 ROUTES

4 x 2 hoef nie ver terug te staan vir 4 x 4  | Groot sports met 4x2's  |  Hoe werk ewenaarslotte?   | 4X2 rywenke

4 x 2 hoef nie ver terug te staan vir 4 x 4

uit MOTOR BURGER, 31 Augustus 2000

geskryf deur Braham van Zyl

IN Junie 1999 het ek vir dr. Pietie le Roux ontmoet. Ek het sy Isuzu 4 x 2-diesel eers beloer en toe begin ons tog te lekker gesels. Hy het my vertel dat hy met sy bakkie amper enige plek kan ry waar 4 x 4's ry en boonop ook weer daar kan uitkom. As veearts is dit uit die aard van sy werk nie buitengewoon om in baie uitdagende plekke oor die weg te moet kom nie. Hy het aan my vertel dat hy gereeld saam met die 4 x 4-manne ry en tot hulle ontstigtenis op die meeste se hakke kan bly. Volgens hom het hy die grootste gedeelte van Sutherland se baie moeilike Poskoets 4 x 4-roete met sy 4 x 2-bakkie baasgeraak. En met dié het hy 'n saadjie in my kop geplant.

'n Rukkie later, in November 1999 vat ek en Coenie die Cederberg 4 x 4-roete. Tydens die tog het 'n Isuzu 4 x 4 sy vooras afgedraai vêr van enige werkswinkel of ander tegniese hulp. Dit was nogal 'n moeilike 4 x 4-terrein met steil opdraendes. Al genade in daardie benarde omstandighede was toe dat die persoon net met sy bakkie se ewenaarslot die roete moes voltooi iets wat hy inderdaad ook reggekry het.

Intussen het ek by die Getaway- en ander skoue waar ek uitstal in aanraking gekom met ál meer mense wat uitvra na roetes vir voertuie met ewenaarslotte. Ook die eienaars van kleiner en sagter 4 x 4's het begin navraag doen omdat die rêrige 4 x 4's se base hulle nie wil saamvat nie. Al wat ek toe moes doen, was om geskikte roetes te identifiseer, dit te ontwikkel en dan te begin aanbied.

Wat nou oorbly is dat al die duisende trotse eienaars van 4 x 2's met ewenaarslotte hulle voertuie werklik tot die maksimum begin geniet. Daar is vir 'n geruime tyd al ongelooflik baie Isuzu's met ewenaarslotte op ons paaie. En nou dat die nuwe generasie Toyota Hi-Lux'e só gewild is, is daar ook ál meer van die 4 x 2's wat op die sypaadjies en graswalle van Tygervallei winkelsentrum te sien is. (Dis juis daarom dat ek vir hulle ordentlike speelplekke wil aanbied.) Ek verstaan dat Nissan se nuwe 4 x 2's inderdaad "Hardbodies" is en almal weet dat die Colts nou al goed ingeburger is. Boonop behoort die Ford/Mazda's ook nie vir enigiets agteruit te staan nie.

click to go to top of page

Groot sports met 4x2's

uit MOTOR BURGER, 30 November 2000

geskryf deur Braham van Zyl

VIERWIELAANGEDREWE voertuie is lankal 'n algemene gesig op ons paaie. Min mense weet egter dat dié "groot menere" van die veld ook kleinboeties, naamlik die 4X2's, het. Hulle kan amper net so maklik van die gebaande weë loop as die 4x4-bakkies. Dat 4x2's gekom het om te bly is nou seker.

Eksplôr SA het so 'n rukkie gelede begin om ook vir die 4x2-bakkies met opsionele ewenaarslot-aandrywing spesiale veldryroetes uit te snuffel en aan te bied. Hul vyfde byeenkoms vind komende Saterdag by Grabouw plaas. Te oordeel na die reaksie van dié wat al saam gery het, gaan dit sommer nog in 'n interessante tydverdryf ontwikkel. Heelwat deelnemers het al vir 'n tweede maal saamgery.

Dat 4x2's nie alles kan doen wat hulle grootboete kan nie, is wel waar. Tog is dit vir die bestuurders van hierdie amper gewone bakkies net so 'n adrienalien-belaaide ervaring om deur slote en oor walle te ry as vir die viertrekmanne. Die beste van hierdie bakkieryery is dit was sommer gou nadat ons daarmee begin het, duidelik dat dit nie 'n sport net vir die manne is nie. Die vroue en kinders trek in groot getalle saam. Waar in dongas klippe gepak moet word, spring hulle maklik uit om te help en is gewoonlik ook vol raad. Kom dit by die kuiery om die braaivuur wat ná elke rit gemaak word, kuier hulle ook lekker saam.

By dié byeenkomste word heelwat geleenthede geskep, veral vir die kinders, om hulle energievlakke so effens uit te put. Sou dit wees om vir 'n lekker swemgat langs die roete te sorg of bloot net toe te sien dat daar genoeg klimbare bome by die piekniekplekke is. Nou een dag was daar selfs 'n heerlike moddergeveg tussen 'n klompie kinders in een van die plaasdamme hoog bo in Villiersdorp se berg.

Eksplôr SA se uitritte vir 4x2's is ook veel meer as net 'n ryery. Daar word gewoonlik voor die roete iewers bymekaar gekom. Elke voertuig kry dan 'n inligtingsblaadjie oor die omgewing waardeur gery word. Daar word heelwat gestop en gesels oor natuur- en geskiedkundige sake. Programme word só saamgestel dat daar elke eerste naweek van die maand 'n uitrit is. Die meeste daarvan is binne twee en 'n half uur se ry van Kaapstad. Lesers van Bredasdorp, George en Riversdal het ook navraag gedoen. Roetes wat vir 4x2's geskik is, is nog min. Ons soek nog heelwat meer as die stuk of tien wat ons nou al geïdentifiseer is.

Ryplekke wat reeds as dagroetes vir die nuwe jaar geïdentifiseer is, is by Hopefield, Paleisheuwel in die Sandveld, teen die steiltes bokant die Palmietrivier by Grabouw, deur die berge tussen Villiersdorp en Genadendal en so een of twee roetes in Ceres se wêreld. Naweekroetes is in Swellendam se wêreld, by die Attequaskloof in Mosselbaai se omgewing, Touwsrivier se Swartberg, die Gifberg by Vanrhynsdorp en dan natuurlik daardie besondere Klein Karoo-gebied tussen Montagu en Barrydale.

Nuus oor dié avonture is op die webblad www.explore-sa.com te kry. Daar is ook hope foto's om te wys hoe dit lyk as dié bakkies die veld invaar. Grondeienaars wat dink hulle het moontlik sulke roetes, kan Braham van Zyl by (021) 975 6531 bel.

click to go to top of page

Hoe werk ewenaarslotte?

uit MOTOR BURGER, 30 November 2000

geskryf deur Braham van Zyl

'n EWENAARSLOT, of "diff-lock", is een van die handigste bykomstighede wat in 'n bakkie aangebring kan word. Deur net die druk van 'n knoppie op die panneelbord, word jou bakkie se agteras 'n soliede stuk staal wat jou sommer ente verder die veld kan inneem as wat jy met 'n gewone as kan kom.

Hierdie spesiale as wat in jou bakkie aangebring kan word, werk op 'n heel eenvoudige beginsel: Jy moet egter sy werking verstaan om dit optimaal en met veiligheid te kan gebruik, want dit kan gebeur dat jy só 'n as baie maklik kan afdraai as jy dit verkeerd gebruik. Dink maar wat sal gebeur as jy met so 'n vaste stuk staal tussen die wiele om 'n draai sou probeer ry. Die buitekantste wiel wat die sirkel moet voltooi, loop mos baie verder as die binnekantste een wat feitlik stilstaan. Sou hulle met 'n vaste as verbind gewees het, sou dié by die eerste draai soos 'n koeksister opgerol en mors-af gedraai het. Daarom dat elke wiel van 'n gewone voertuig sy eie as het wat in die middel deur 'n glipratstelsel aan mekaar en aan die dryfas se dryfstaaf gekoppel is.

Wie wel al in sand of modder vasgeval het, sal weet dat jou ryding so 'n slag met een wiel aan die skop gaan, terwyl die ander een botstil gaan staan. Dit is juis as gevolg van die ratstelsel wat in daardie verdikte deel van die agteras geleë is. En dis nou dié deel wat in Engels as 'n differential, of sommer net diff, en in Afrikaans 'n ewenaar genoem word. As daar dan 'n ewenaarslot in 'n ryding geïnstalleer word, kan die bestuurder self besluit wanneer hy of sy daardie dryfas tussen die twee wiele aanmekaar wil koppel om altwee wiele ewe veel trekkrag te gee. Hierdie ewenaarslot werk natuurlik op sy heel effektiefste op steil opdraendes met soliede oppervlaktes, soos by rotsbanke. Dis egter juis hier waar dit ook die heel maklikste afgedraai kan word.

Wat belangrik is, is dat die ewenaarslot slegs teen lae snelhede gebruik moet word en ook net op oppervlaktes waar die wiele wel tot 'n mate sal kan tol om te keer dat die as, wat dan as 'n soliede staaf gekoppel is, soos 'n koeksister sal afdraai wanneer daar om 'n draai spanning op kom. Die binneste agterwiel moet dus altyd genoeg geleentheid hê om, wanneer om 'n draai gery word, te kan glip sodat dit die pas kan makeer terwyl die buitenste agterwiel sy langer draaisirkel voltooi. Sou jy dus 'n rotsbank wil uitklim, moet jy dit altyd reguit doen. In sand en modder en op los gruis kan jy maar draai, want daar kan die binneste wiel al tollende op een plek gaan stilstaan om te wag dat die buienste wiel sy trekwerk doen.

Dit is belangrik dat die ewenaarslot-knoppie so gou as wat jy uit die vassit gebied is, weer ontkoppel word. Met die opgewondenhied wat dié soort van bestuur gewoonlik bring, gebeur dit maklik dat jy dit in die "aan" posisie vergeet. Gelukkig is sommige rygoed deesdae so ontwerp dat sodra jy die masjien afskakel daardie meganisme op die agteras ook ontkoppel. Wanneer jy dan later weer begin ry, is jou voertuig wel veilig.

click to go to top of page

4X2 rywenke

geskryf deur Braham van Zyl

Hier volg 'n paar wenke wat jou sommer baie sal help as jy met jou 4x2 wil veld toe gaan:

Vir vastrap:

Koppelaarbeheer:

Slote en walle:

4x2 ryers is welkom om nog wenke by explore.sa@mweb.co.za aan ons

click to go back to 4X2click to go to top of pageclick to go to home pagecontact us